maandag 2 april 2012


Maandag
2
April

Aftelrympie

My plaas se naam is Kleinbegin:
met God se hulp sal ek oorwin.

My plaas se naam is L’Avenir:
ek swaai my sweep met krag en swier.

My plaas se naam is Vyandsvlei:
buurman se rook, bly ver van my.

My plaas se naam is Skoongesig:
en saans maak ek die hortjies dig.

My plaas se naam is Rusmysiel:
maar voor my draadhek rol ’n wiel.

My plaas se naam is Vredendal:
die bergstroom torring aan sy wal.

My plaas se naam is Luiperdkom:
alreeds begin die werkvolk brom.

My plaas se naam is Nooitgedag:
dit lyk my ek oorskat my krag.

My plaas se naam is Droëbult:
die oes word minder, meer die skuld.

My plaas se naam is Moedverloor:
op ’n diep kliplaag breek my boor.

My plaas se naam is Kansverbeur:
’n stal se bouval noem my Seur.

Allesverloren is my plaas:
Leë murasies noem my Baas.
Peter Blum (1925-1990)

Geen opmerkingen:

Een reactie posten